Gin bied lafenis teen die winterkoue
Deur Charlotte Lesch
Foto’s: Cor Cronjé
Witblits word nou nie aldag beskou as die tipiese tradisionele drankie om ‘n braaivleisvuur nie, maar die drankie is meer tradisioneel en nog nader aan brandewyn as jy mag dink.
Daar is tans ‘n hele herlewing rondom witblits om die naam te vestig as eg Suid-Afrikaans, vertel John Relihan, van die plaas Spes Bona in die Riebeeksriviervallei wat onlangs sy eie witblits, twee soorte gin en grappa (druiwe-spiritus) begin stook het. John vertel dit is ‘n egte Wes-Kaapse tradisie.
“Witblits is tradisioneel gestook van druiwe. Ons het ‘n trotse tradisie aan witblits. Al die Bolandse plase het met die draai van die eeu ketels gehad en almal het witblits gestook.
“Elke plaas was geregtig op 30 gelling aksynsvrye witblits en daarna moes hulle vir die keiser sy deel betaal. Deesdae het jy nie daardie vergunning nie,” skerts hy.
Hy vertel verder as jy witblits in ‘n vat sou sit en verouder, dan word dit brandewyn. Witblits is eintlik die voorouer van brandewyn. Dis ‘n trotse tradisie.”
Hy vertel, soos plaaslike wynmaker Eben Sadie tereg sê: “Spaanse of Franse wynmakers vertaal nie hul etiket nie, want hulle is trots op hul taal.’
“Ons het Engelse etikette, want baie van die produkte gaan na ander lande toe,” verduidelik hy.
John en sy broer Matt Relihan, is die vyfde geslag Relihans van die plaas Spes Bona nadat John William Relihan vanuit Ierland gekom het en hom in 1865 op die plaas kom vestig het. John, eienaar van die plaas wat na 35 jaar in die mediabedryf uitgetree het, sê jy moet konstant nuwe dinge leer.
Hy het geleer om onder meer witblits te maak. Vandag bestuur hy en Matt komplimenterende aktiwiteite op die plaas wat mekaar behoorlik aanvul. Matt, wat sedert 2011 uitvoerende hoof van Kaapjag is en vir die afgelope 10 jaar kleiduifbyeenkomste organiseer en die onderneming Cape Field Sport besit en bestuur het die byeenkomste nou plaas toe gebring.
‘n Vorige lemoenboord is uitgehaal om plek te maak vir ‘n gesellige kleiduif-skietbaan. Die kleiduifskietbyeenkomste word gewoonlik gevolg deur ‘n professionele Gin of witblitsproesessie. Matt vertel die byeekomste is veral gewild onder korporatiewe groepe vir spanbousessies. Daar is die afgelope drie maande al ‘n paar korporatiewe skiet- en proebyeenkomste aangebied.
“Mense wat skiet vir plesier en nie noodwendig ervaring het, staan in ‘n hok om hul en ander se veiligheid te verseker.”
Elke skut kry ‘n gelisensieerde semi-outomatiese vuurwapen en twee patrone om die teikens te skiet. Die kleiduifteikens is ook ‘n natuurlike produk. Daar word hier van ses masjiene gebruik gemaak wat die teikens uitskiet en alle teikens word in vlug geskiet.
John, wat al ook vir jare olyfolie maak, vertel hy het vir geen kursusse gegaan nie.
Hy het baie inligting danksy die digitale wêreld bekom, maar ook by ‘n paar mense gaan aanklop om meer oor die tradisie wys te raak.
Daar is beslis ‘n kuns aan die maak van die gedistilleerde produkte.
Sy rou produk is wyn. John maak gebruik van twee soorte ketels, ‘n kolom-distilleerketel en twee potketel-konfigurasies.
Die klein ketels gee baie beter geur van die druiwe, verduidelik hy. Witblits wat uit die ou tradisionele ketels kom, se alkoholvlakke kon jy nie destyds heeltemal beheer nie, vertel hy.
“As die wyn bietjie snaaks proe, sit ek wel koper by, want koper trek die sulfides uit. So die ou mense het geweet hoekom hulle koper gebruik.
“Maar jy het nie groot koperoppervlaktes nodig soos wat in die ou dae die geval was nie.” Hy sit ‘n koperarm aan wat genoeg is om die sulfides uit te haal. John is ook besig om ‘n ketel te bou. Alles wat hulle maak, word twee keer gedistilleer.
Die eerste keer om die alkohol uit die wyn uit te haal. Die wyn word dan alkohol. Daarna word die alkohol weer gestook om ‘n produk soos gin te maak. “Tradisioneel in die ou dae, het die mense die doppe gestook om grappa te maak, wat ons vandag ken as witblits.”
“Die kuns lê daarin om op presies die regte plek die regte alkohol te vang, wat dan vermeng kan word.”
Hy sê daar is ook geen resep vrylik beskikbaar nie.
“Daar is verskeie mense wat witblits kan maak wat besonders gaan wees vir sy doel. Dit het alles te doen met persoonlike smaak.” (Mampoer is meestal vrugte wat gegis word in ‘n vrugtewyn.)
Hy vertel verder dat vorige geslagte gewoonlik tussen 52% en 62% alkohol uit die tradisionele koper ketels gekry het. “Witblits bemark jy dus teen ‘n hoër alkohol persentasie as byvoorbeeld grappa.
Weereens het dit alles te doen met persoonlike smaak. Sy rou produk is wyn, omdat wyn ‘n Wes-Kaapse ding is, verduidelik John. “Wyn gee‘n ekstra dimensie aan jou spiritus-produkte wanneer jy dit distilleer. Wyn is ook verder vrylik beskikbaar in ons omgewing en boonop van goeie gehalte daarby.”
Hy maak twee soorte gin. Daar is die klassieke gin, waar die speserye wat gebruik word tradisioneel deel van gin is. Die een waaroor hy veel meer opgewonde is, is die Kaapse Fynbos-gin.
“Ons het boegoe op die plaas en wilde anys, asook alle soorte interessante kruie waarmee hulle nou gaan begin speel en in die gin meng. Niks word vermors op dié plaas nie.
“Ek stap letterlik hier op en gaan haal die boegoe en pluk die suurlemoene waarvan ons die skille gebruik.”
Die enigste produk wat ‘n vereiste is om gin te maak, is die juniper-bessie, ‘n Toskaanse-bessie wat ingevoer word en nie plaaslik beskikbaar is nie.
“Daarna kan jy met speserye en kruie speel. Dit gaan vir my daaroor om ‘n gin te maak wat ‘n kenmerkende geur en smaak het. Dit is die lekkerte hiervan.”
John verduidelik dat dit nie net so eenvoudig is om spiritus-produkte vir die lekkerte te begin stook nie. “Dit is alle onderworpe aan wetlike aspekte wat nagekom moet word.
“Jou plaas moet gesoneer word vir vervaardiging, jy moet ‘n dranklisensie hê om te kan vervaardig en verkoop en jy moet jou ketels by SARS registreer en ‘n goeie verhouding met hulle behou, want elke liter wat jy maak moet jy jou deel vir die keiser betaal.”
Kontak John by [email protected] vir bestellings of besprekings.
Get your FREE copy of De Mozaik at your nearest tourism office, the Vredenberg Weskus Mall info desk, Spar and Pick n Pay.
Call: 022 487 3221
West Coast Way is a unique collection of themed routes that can be enjoyed by locals and visitors when they do an adventure-filled Cape West Coast self-drive trip for a day trip or a West Coast Holiday. The new West Coast Way “basket” of free routes on offer include the West Coast Way Scenic Route, the West Coast Way Berg Route, the West Coast Way Foodie Route, the West Coast Way Cultural Route – as well as the newly launched West Coast Way Wild Route, all of which are designed to showcase the many attractions and activities that are already on offer on the Cape West Coast and inland areas – but may be unknown to many. For more information on West Coast Way, the other routes on offer, and the list of 101 Things to Do on the West Coast visit www.westcoastway.co.za or call West Coast Way on 0861 321 777. Connect with West Coast Way on Facebook and Twitter at WestCoastWaySA.