Die woord “roadtrip” verlaat skaars my mond of 123, kinders en man, sak en pak, sit en wag al in die klein wit tjor om te vertrek.
Om die pad aan te durf met die kinders is nie vir almal ‘n koppie tee nie, maar met genoeg kennis van waar jou klein monstertjies welkom is, is helfte van die geveg al gewen. Nou net om genoeg toiletpapier vir bossies vang te onthou!
Ons golfie hink-ke-kink die beeldskone R27 af na ons eerste stop. Die see in die verte, die wit duine hier en daar en die mooiste fynbos wat die pad versier is genoeg om almal stroopsoet te hou.
Die Weskus Fossiele Park; Langebaan-weg
Tel: 022 766 1606
Die fossiele park is wêreld bekend vir sy besonderse goed bewaarde fossiele.
Daar is so baie interessante dinge om te doen en te sien wat die kinders se belange prikkel.
Moenie verbaas wees as julle die ervaring nog meer as die kinders geniet nie!
Naweek en vakansietye: 10:00, 11:00, 12:00 and 13:00.
R20 per volwasse en R15 per kind en pensionaris, dit is ‘n moet om ‘n toer te doen wat insluit: toer na opgrawings, labrotorium & museum teen R55 per volwasse, R30 vir pensionarisse en R20 per kind. (skakel liewers om seker te maak oor die toer tye Tel: +27 022 766 1606)
Reg vir ‘n bietjie spasie tussen mekaar vertrek ons na ons volgende bestemming, en waar ons vir twee dae gaan oornag.
Club Mykonos, Langebaan, 124km vanaf Kaapstad
Tel: 022 707 7000
Spierwit kalksteen huise met venster rame was bars met kleur. Die lewendige atmosfeer van hierdie vakansie plekkie, genoem na die Griekse eiland Mykonos, maak dit die ideale plek vir die hele gesin.
Dit is maklik om sommer vir die hele Desember vakansie hier in te trek. Met ‘n putt-putt baan, swembaddens om elke hoek en draai, boot ritte, scuba duik fasiliteite, ‘n private strandjie en ‘n “game shop”, gaan Chester die donkie se abba seker die verste wees wat julle wil ry.
Ons ry deur Langebaan se middedorp om die dorp ‘n bietjie te verken. Die kinders weet beslis waar ons eerste afklim. Die opgewondenheid skud omtrent die golfie rond!
Sunnypark; Langebaan Middedorp
Elke kind wat al ooit voet gesit het in Langebaan ken hierdie plek hoopeloos te goed!
Vir net R80pp kan die kinders heeldag lank waterwurm gly,”paintball” skiet, putt-putt speel, trap-kar ry en trampoline en springkasteel spring.
Met braai geriewe en gemaklike sitplek is dit heerlik om net agteroor te sit en te sien hoe die kinders met opgewonde gesiggies hulself gate uit geniet!
Stand up Paddle boarding, Kitelab
Tel: 022 772 0026
Die Langebaan Strandmeer is vakansie tye propvol aktiwiteite. Ons huur ‘n SUP bord en roei uit oor die water. Ons bestuudeer die voël lewe op Schaapen Eiland en sien so waar as vet nog ‘n paar spierwit hasies ook!
Ons geniet Langebaan ten volle maar aangesien ons “road trip” vat ons weer die pad, die keer Saldanhabaai om.
Saldanhabaai Vakansie Oord; Saldanhabaai, 142km vanaf Kaapstad
Tel: 022 714 2247
Die kinders is skaars uit die kar of hulle het alklaar beste tjommies gemaak met die gesin in die rondawel langs ons.
Die oord is goed ingerig vir die kinders en ons gesels laataand om kampvuur terwyl die kinders skaterlag soos hulle buite rondhardloop en aan-aan en wegkruipertjie speel.
Dial Rock Kafee net om die draai het die lekkerste draairoomys wat ons geniet terwyl ons ons tone natmaak in die weskus water.
Ons klim op die R45 en draai links na Jacobsbaai.
Jacobsbaai; Route 27, 17.4km vanaf Saldanhabaai via R45
Amarulia Gastehuis – Tel: 082 671 8099
Jacobsbaai is ‘n beeldskone dorpie. As jy ‘n rustige wegbreek met die kinders wil geniet en net die stilte en die mooi wil waardeer, is dit die plek.
Perfek vir rond rol in die branders met ‘n branderplank of net rondkrap in die rotspoeletjies, Jacobsbaai is vrede verpersoonlik.
Scotts Kwekery; R45
Ons klim terug op die R45 en hou by die Scotts kwekery stil vir middagete. Met ‘n lekker speel area en verskeie plaas diertjies om te voer en te vertroetel bly ons baie langer as wat ons gedink het het sou.
Deur Vredenburg en op die pad Paternoster toe, draai ons links af op ‘n grondpaadjie Trekoskraal toe.
Trekoskraal
Die grondpad Trekoskraal toe is besonders mooi, ons kyk uit oor die koring lande en lag lekker soos die kinders die beeste, skape en perde namaak wat langs die pad staan.
Trekoskraal is die tyd van die jaar, volgens my, meer kinder vriendelik as enige van die ander kamp terreine. Dit is nie so besig nie, agv geen badkamers of stort geriewe nie maar daar is ‘n gevoel van vryheid hier wat jou weer en weer sal laat terug keer.
Hier pak ons ‘n staproete aan wat vir ons na ‘n spoorlose strand toe lei. Ons gly by duine af, rol in die branders, en speel onsself behoorlik honger voor ons terugkeer vir boerewors rolle en marshmallows op ‘n stokkie.
Vroegoggend pak ons op en vat die pad Paternoster toe. Ons stap bietjie rond, spring op die rotse,koop met ons oë by die vismark se stalletjies en eet ‘n lekker Blikkies Pizza voor ons weer huistoe keer.
Die kinders is skaars in die kar of hulle is vas aan die slaap. Met gelukkige hartjies en vuil bekkies droom hulle van die lekkerste “road trip” ooit… tot volgende keer.
‘n Geseënde fees seisoen vir almal! Kom kuier gou weer vir nog ‘n stukkie Weskus. Veilig ry!
“Danni is ‘n gesoute weskus meisie met ‘n besonderse liefde vir die beeldskone plek. Haar aansteeklike lus vir avontuur sal jou sommer vinnig uit jou gemaksone kom red!”
West Coast Way endeavour to bring you correct and factual information and advice on some of the best destinations, activities and events around the Cape West Coast, but please note we cannot be kept liable for incorrect information If you have spotted an error or omission, please email us. You participate at your own risk and we cannot accept liability for any injuries or claims that may arise.