Inwoners van die Siyabonga Care welwillendheidssentrum buite Vredenburg het op Vrydag, 10 Julie 57 broodnodige komberse in ontvangs geneem.
Geskenk deur die Weskus gemeenskap in samewerking met West Coast Way – die kaapse weskus se nuwe bemarkingshandelsmerk – is die donasie deel van die nasionale “Twitter Blanket Drive”, ‘n beweging wat in 2010 begin is toe ‘n gebruiker van die gewilde sosiale media platform eenvoudig getwiet het, “Wat daarvan as almal op Twitter ‘n kombers skenk?” Duisende komberse is sedertdien ingesamel.
Dis die eerste jaar dat die Kaapse Weskus aan die beweging deelneem. Van Darling tot Yzerfontein tot Langebaan en verder het die weskusgemeenskap saamgespan en ‘n totaal van 57 komberse ingesamel. Die donasie maak ook deel uit van die Mandela-maand veldtog gedryf deur die #Time2Serve simbool op Twitter.
“Ons is tevrede met die aantal komberse wat ingesamel is as jy in gedagte hou dat dit die Weskus en West Coast Way se eerste poging is,” het West Coast Way stigter, Carmen Lerm, gesê.
“Die komberse sal ‘n verskil maak aan die lewens van weskussers wat swaarkry en ons is baie bly om dit aan Siyabonga Care te oorhandig,” het sy bygevoeg.
Siyabonga Care is ‘n nie-winsgewende organisasie wat omsien na die welsyn van siek, gestremde en verstandelik gestremde individue, asook hawelose kinders en weeskinders van die Weskus. Gestig in 2005, voed die organisasie 200 mense per dag en het dit tot op datum ‘n totaal van 1200 weskussers van alle ouderdomme bygestaan.
Siyabonga Care se stigter, Chrisna du Plessis, woon al 25 jaar in die Vredenburg omgewing en sien die sentrum as haar lewenswerk. Sy’t die organisasie op die been gebring om terug te gee aan haar medemens. Siyabonga beteken “Dankie” in Xhosa.
Siyabonga Care hou boeresport op Saterdag, 18 Julie. Woon dit by en kry meer te wete oor wat hulle doen. Vir meer informasie besoek hul webwerf by www.siyabongacare.org.za of skakel hulle op 022 713 5730.