Aangesien ek al van doek-dae af ’n totale *strandbous is, ken ek die weskus waters redelik van ’n kant af. Die sin “ons gaan see toe” stuur ’n opwinding deur my wat selfs die diepste sondag slapie onmiddelik sal staak. Hier in ons wonderlike Weskus is ons omtrent bederf met strande wat elk hul eie unieke verassings inhou. Gryp ’n branderplank, kayak, baaibroek of boek en kom besoek ’n paar van ons sjarmante strande saam met my.
Ons laai al wat ‘n strand-ding is in die reeds gatswaar golfie en trek weg R27 af met ‘n paar Beach Boys treffers wat pomp.
16 Mile Beach, Yzerfontein; 98.3km vanaf Kaapstad
Die langste ononderbroke strand op die Suid-Afrikaanse kuslyn strek vanaf Yzerfontein tot by die Weskus Nasionale Park. Hier sien jy heel jaar lank “surfers” wat tussen die branders baljaar; pappas wat hul seuntjies bietjie waterwys maak en hope vakansiegangers wat die strand mooi kleurvol versier.
Ysterfontein Karavaan Park – +27 (0)22 451 2211. Die Kampeerterein bestaan uit 120 kampeerplekke, almal met water en elektrisiteit sowel as ‘n braaiplek toegerus. Gerieflik net agter ‘n duin, tussen die hoofstrand en 16 Mile strand van Ysterfontein gelee, sorg dit vir ‘n lekker private, amper windlose kamp ervaring. Met baie spasie, winkels en vermaak binne loopafstand, ‘n waskamer, asook ‘n speelarea vir die kinders is dit ideaal vir die hele gesin. Die park is geweldig gewild in seisoentyd, bespreek dus so gou moontlik! Pryse verander volgens seisoen.
Met verversings aangekoop by die Vygevallei Padstal vertrek ons elkeen met ‘n sjokolade melkie in die hand, ‘n vars ouma brood wat die kar opwasem. Vertrek ons op ‘n beeldskone trippie na die Weskus National Park. Vra gerus die vriendelike gesig by die ingang vir ‘n kaart van die Park. Die park is propvol aktiwiteite, ‘n museum, droomagtige strande en staproetes, voel uitkykpunte, selfs braai plekke, asook verskeie plekke om te oornag (Weskus National Park Tel: 022 772 2144). Ons hou stil by Kraalbaai (andersins slegs bereikbaar deur boot.)
Kraalbaai, Langebaan; 109km vanaf Kaapstad
Turkoois waters, sagte wit strande, interessante sandsteen rotsformasies; dit lyk soos ’n prentjie-mooi poskaartfoto waarin ons getrap het. Hier vorm die heuwels ’n heerlike skerm teen die sterk en algemene suidoosterwind. Ek bewonder die huisbote en seiljagte wat geanker lê op die kalm lagoon water; die verliefde paartjies wat oor die gladde water kayak en die gevoel van totale vrede wat hier teenwoordig is. Met die water wat oor die algemeen nie so ‘n geniepsige koue happie het soos die normale weskus waters is dit ‘n heerlike swemplek vir die wat bietjie koulik kan raak. ‘n Uitstekende plek om ‘n tjoppie op die kole te gooi, bietjie rond te dwaal in al die mooi of om aan van die vele watersport aktiwiteite deel te deem. Kraalbaai is regtig uitgerus vir amper elke smaak.
The Farmhouse Hotel – +27 (0)22 772 2062. Oppad terug van die Nationale Park kan julle gerus afklim by die plek vir ‘n koue enetjie of selfs ‘n aandjie deurbring in een van hulle pragtige kamers. Die farmhouse Hotel was onlangs huis vir die Boer Soek ‘n Vrou finaliste, kom sien hoekom die plek goed genoeg is vir die TV skerms!
Terug op die R27 en dwarsdeur Vredenburg draai ons links af Trekoskraal toe. Die rustieke grondpad wat ons neem na ons volgende sjarmante strandjie maak dat ons brandertjies met ons hande uit die vensters maak en ons wens ons was in een van daardie ou Volkswagen Kombies, kompleet met ‘n paar John Lennon sonbrille en ‘n Banjo.
Trekoskraal, Vredenburg; 143km vanaf Kaapstad
Elke keer as ek in die rigting van Trekoskraal ry begin die vryheid van hierdie plek se ongerepte skoonheid my vul. Oral waar ek kyk sien ek God se perfekte handewerk netjies uitgesprei. Die plek is ideaal vir mense wat wil kamp; branderplankry; kinders wat in rotspoele wil rondkrap; kreefduikers; hengelaars of sonbaaiers. Vir diegene wat die koue weskuswater te intimiderend vind is daar altyd die beeldskone staproetes om aan te pak, asook die magiese duine om in rond te speel met ‘n 4X4 vir die meer avontuurlustiges.
Trekoskraal is gratis aan rustige natuurliefhebbers, hier is geen badkamerfasiliteite of stortgeriewe nie.
As mens eers Paternoster se bultjie benader weet jy al dat son, see en spierwit duine regstaan om jou met ope arms te verwelkom.
Tietiesbaai, Paternoster; 153.2km vanaf Kaapstad
Tietiesbaai is uit en uit vreedsame rustigheid verpersoonlik. Die Kaap Columbine Natuurreservaat is propvol aktiwiteite vir die hele gesin, maar die strand is wat die meeste aandag trek. ’n Veilige strand en rustige waters vir die kinders om in te baljaar; wit, skulperige sand wat tussen die tone vou en pragtige seelewe om te beskou deur ’n duikbril en snorkel. Vakansietye bars die baai met kampeerders van oral-oor ons land wat elkeen ’n vrolike deuntjie uiter.
The Beach Camp – +27 (0)82 926 2267. Net buite Tietiesbaai gelee vind jy hierdie oulike plekkie. A-raam tente, elk uitgerus met beddens, versier die kuslyn. Dit lyk kompleet soos iets uit ‘n kindertydse droom. Hier kan jy bedags jou rots spring vermoens toets, swem of duik en saans ‘n knertsie om die kampvuur onder ‘n sterrekombers geniet.
Met ’n sonbruin lyfie en ’n wakker vel van die verfrissende weskuswaters nooi ek julle om gou weer by my aan te sluit vir nog ’n paar weskus verwikkelinge. Lekker swem!!
*Strandbous – Persoon wat vir dae lank sonder huis op die strand kan rond dwaal.
West Coast Way endeavour to bring you correct and factual information and advice on some of the best destinations, activities and events around the Cape West Coast, but please note we cannot be kept liable for incorrect information If you have spotted an error or omission, please email us. You participate at your own risk and we cannot accept liability for any injuries or claims that may arise.