Dit is weer daardie tyd van die jaar; verlof is in, die Kersfees bonus brand in die sak en avontuur lê en wag om elke hoek en draai. Ons besluit om die Weskus Pad (R27) aan te pak om die lus te tem. Nog voor jy jou bestemming bereik in een van die Weskus dorpies is daar ‘n paar eetplekke op die pad wat lekker verrassings inhou.
Ons het vining geleer dat ‘n bespreeking in van die dorpies se gewilde eetplekke, veral die met die vars seekos op hul voorstoep, baie teleurstelling sal vermy!
Ons is skaars 40min op die pad en ons bereik al ons eerste stop.
VYGEVALLEI PADSTAL, Langs R27 – 60km vanaf Kaapstad, Yzerfontein
Soos jy intrek by Vygevallei besef jy dadelik dat dit nie net enige padstal is nie. Hier is hope vir die kinders om hulself mee besig te hou; ‘n speel area, groot klimraam en plaas diere.
Heerlike tuisgebak, voedsame middag etes of selfs net ‘n toebroodjie en tjips, Vygevallei is ‘n stukkie lekker wat wag om ondek te word.
As jy jouself op diè pad vind die eerste Sondag van die maand, loer gerus in vir hul “I Love Weskus Mark”. Daar is vars organiese produkte en lekkernye te koop asook gratis wynproe. Die verskeie stalletjies en lewendige musiek sal jou padstal stoppie tjoef-tjaf in ‘n fees verander.
Ons vat die pad na Langebaan, 116,2km vanaf Kaapstad; Asof sy turkoois waters, droomagtige heuwels en vrolike atmosfeer nie genoeg rede is om te kuier nie, sal Langebaan se verskeidenheid “laid-back” eetplekke beslis maak dat jy terug keer.
Thali Thali, Langs R27, Langebaan
Soos die naam oor my tong rol, beweeg my heupe saam in ‘n traditionele dansie. Buite om ‘n groot vreugdevuur sit en kuier jy saam met geliefdes en geniet die traditionele potjies wat bedien word. Met ‘n wonderlike speel area vir kinders wat ook ‘n verskeidenheid diere aanhou is dit die plek om die hele gesin mee te bederf.
Tel: 082 372 8637 Epos: [email protected]
DIE STRANDLOPER, Langebaan
Die ope lug, sand-onder-die-voete onthaal is op die watersrand met ‘n besonderse mooi uitsig oor die Langebaan strandmeer. Die akoestiese klanke van ‘n plaaslike musikant wat weg tokkel aan tradisionele wysies maak dat jy net eenvoudig moet ontspan.
‘n Vyfgang maaltyd word vanaf 12nm oor ‘n rustige tydperk van drie tot vier ure bedien. Hier kom jy nie net om te eet nie, maar om te ervaar. Tradisionele geregte soos Vis-Kerrie, gerookte engelvis, gebraaide haarders , snoek en waterblommetjie bredie is als op die watertand lekker spyskaart.
Tel: 083 227 7195
Epos: [email protected]
BREEZE, Langebaan
Die koel, nuwerwetse “kitesurfing-hotel”, Windtown, is die tuiste van Breeze. Met rustige, lui-lekker middagetes buite op die stoep of ‘n romantiese aandete in die sagte skemerlig van die resturant kan jy weglê aan smaaklike, gesonde geregte. Probeer gerus die Volstruis Steak (R165) of die saffraan-gekruide plaaslike mossels wat wegsmelt op jou tong(R40/R90). Die indrukwekkende seleksie wyne en skemerkelkies kan dalk maak dat jy tot laataand wil kuier.
Breeze sorg beslis vir ‘n vars “briesie” op die dorp.
Tel: 022 772 1078
PEARLYS, Langebaan
Pearlys is al vir jare lank die “local hotspot” van Langebaan, en met goeie rede. Van vroegoggend koffie en plaasontbyt, middag of aandete met die hele gesin, of ‘n laataand kuier saam met vriende is daar voorsiening vir amper enige geleentheid.
Seekos; Pizza; Pasta; Die verskeidenheid disse op hul spyskaart is sakpas en sal sorg dat niemand met ‘n honger kol op die maag huistoe keer nie.
Die houtdek kyk uit oor Langebaan se hoofstrand met sy wisselende oog.
Tel: (022) 772 2734
Ons volgende bestemming; Saldanhabaai, 142km vanaf Kaapstad; Op sy tyd die Visvang Mekka van die Weskus. Saldanhabaai is propvol gesoute “visvoete” wat weet hoe om ‘n ordentlike vangs teen ‘n sakpas prys aan te bied.
SANDSTONE, Saldanha
Op die water geleë en met met vure wat tot laataand onder die sterre brul is Sandstone ‘n plek om agteroor te sit, die Weskus se lekkerste Chilli Poppers te verslind en die “live bands” te geniet wat gereeld hier optree.
Tel: (022) 714 1574
Nog vêr van klaar kuier vertrek ons Velddrif toe, 144.4km vanaf Kaapstad; Die stil en rustige dorpie wat teen die Bergrivier sit, los diep spore in die hart van enigeen wat kans gee om te sien watse wonders hy inhou.
BOKKOMLAAN, Velddrif
Rye jetties teenaan die rand van die bekende grondpaadjie lyk of hul sweef bô die water, Pelikane wagglesoos troeteldiere rond en honderde bokkoms op styers staan uitgehang om te droog. Die gevoel wat hierdie plek jou gee is soos niks anders nie. Met verskeie eetplekkies op die laan is dit maar moeilik om uit te sonder. Geniet die belikke pryse van die weskus geregte hier terwyl die son glinster op die Bergrivier.
Ons voorsien reeds ‘n lekker kuier soos ons ons laaste bestemming benader. Paternoster, 148.9km vanaf Kaapstad; die kunstige vissersdorpie spog met die grootste verskeidenheid bekende eetplekke aan die weskus. Die mense van die dorp waardeer goeie kos en ‘n goeie kuier uit en uit.
THE NOISY OYSTER, Paternoster
‘n Kleurvolle wegskuil plekkie onder die bome met feetjie ligte wat jou onmiddelik wegvoer. Die atmosfeer is absoluut trillend! Lewendig! Uitbundig!
Die kos is uiters smaaklik, en met ‘n tong-in-die kies spyskaart wat daagliks verander sal jy keer op keer terug wees vir nog.
Tel: (022) 7522196
GAATJIE, Paternoster
Son, see, goeie gehalte etes en magiese uitsigte… waarvoor meer kan ‘n mens vra? Alles op Gaatjie se spyskaart is so vars soos kan kom en elke happie smaak na pure liefde.
Tel: (022) 752 2242
BLIKKIES PIZZA, Paternoster
Die enigste blou sinkplaat gebou op die dorpie maak ‘n pizza wat jou tone laat omkrul van lekker kry. Heel bô in Paternoster geleë, het Blikkies ‘n uitsig wat almal beny. Ontbyt en middagete kan hier geniet word om die hongerte te stil wat die Weskus seelug jou permanent laat voel.
Loer gou weer in en verken die mooie Weskus woord vir woord saam met my!
“Danni is ‘n gesoute weskus meisie met ‘n besonderse liefde vir die beeldskone plek. Haar aansteeklike lus vir avontuur sal jou sommer vinnig uit jou gemaksone kom red!”