Vrydag middag… Die laaste asempies teug oor die lang skool en werksweek soos ons die wegbreek-wonderland van son, see en sand benader.
Die son sit nog hoog terwyl ons wit Chico Golfie tot stilstand kom by Farr Out Gastehuis. Ons slaapplek vir die aand; ‘n wigwam tent dit is so waar “glamping” in die veld net buite die pragdorpie, Paternoster. Hier sal ons vanaand om ‘n kampvuur sit, Marshmallows braai en soos cowboys en indiane “sports” maak tot slapenstyd.
Die eienaars, Deon en Marion, groet vriendelik terwyl ons inboek en nooi ons vir ‘n “Bundu bash” in hul beach-buggy op Paternoster se duine. So tussen die wit sand, blou-groen waters en gekamoefleerde vygies in die veld, sien ons twee dassies wat bak in die son, ‘n valk wat laag sweef om een of ander veld gediertetjie in prooi te verander, asook ‘n verliefde paartjie wat strandlangs op die plaaslike perderoete die perde styf teenaan mekaar laat trippel soos hulle inlê vir ‘n liefdeskus.
Met ‘n Magnum in elkeen se hand sit ons op die hoogste duin en geniet ‘n sonsondergang so asemrowend mooi dat dit selfs die plaaslike skinderkoerant sprakeloos kan laat. Ek voel springlewendig soos ons terugkeer; die vars reuk van die weskuswaters om ons, die koel seelug teen my gesig en boeta se skaterlag soos ons die duine een vir een weer aanvat.
Vroegoggend ry ons dorp in; ‘n oorvriendelike kreefsmous fluit deur sy “passion gap” vir ons ‘n paar verkoopslyne wat ons laat giggel en gril.
Son, see en sand tussen die tone; rondomtalies maak en strandlopertjies jaag; dolfyne wat in die branders baljaar; sandkasteel bou; by duine afrol en swem.
Lekker.
Lui.
HONGER!!
Die ou vismark is ‘n kleurvolle, warrelende bondel energie. Stalletjies met bokkoms en allerhande handgemaakte mooihede help sorg vir die eetplek se unieke atmosfeer. Ons lê weg aan die lekkerste vis en tjips in die weskus terwyl ek die plaaslike kindertjies bewonder; kaalvoet in onderbroek besig om ‘n randjie te maak met ‘n skulpie-hartjie.
Ongeveer 6km vêrder klouter ons die Kaap Columbine Lugtoring uit met die hoop om ‘n walvis te sien; die panoramiese uitsig is iets besonders. Ons slaan ‘n tentjie op by Tietiesbaai waar jy onderandere ‘n staproete kan aanpak, gaan kayak, snorkel, ‘n paar krewe uitduik, visvang, op die groot duine speel, of net agteroor lê en die vrede (wat teen die tyd oorneem) ten volle geniet.
Die enigste geluide is die gesuis van die vuur en die laagwater wat saggies die kus streel; so lê ek in die arms van my geliefdes, en saam met die sterre tel ek my seëninge.
*Gaan geniet dit en soveel meer die naweek van die 29ste November waneer Paternoster hulle jaarlikse Seekos Fees en Bergfiets uitdaging hou! Inskrywings vanaf R20 – R100, Paternoster Vismark, Seeduiker Straat
Kreef & Visvang-seisoen: Meer info hier…
Akkomodasie:
•Farr Out Gastehuis
Wigwam Rising Moon – R600 per persoon wat deel per nag
Beach-buggy toer – prys op navraag
Marion Lubitz
Sel: +27 (0)83 410 4090 Tel: +27 (0)22 752 2222
•Kaap Columbine Natuurreservaat / Tietiesbaai
Kampeer Terrein (slegs woonwa of tent) – R131 per nag per eenheid (6 persone)
Dagbesoekers (07:00 – 19:00) – Volwassenes = R15.00 Kinders = R11.00
Oord Bestuurder
Tel: (022) 752 2718
Aktiwiteite:
•Kaap Columbine Lugtoring
Dagbesoekers (10:00-15:00) – Volwassenes = R13.70 Kinders = R6.90
•Drikus Perderoete
Sunset trip – R250pp
Ronel
Sel: 082 748 5596